Thursday 13 October 2016

Resensie: Koester jou kleuter - Ann Richardson

Dit is uiteindelik jou baba se eerste verjaarsdag!  Maar skielik verskuif jou besorgdheid oor die versorging van ’n piepklein baba na die dissiplinering van ’n woelige kleuter.  En hoe nou gemaak?  Dit voel of jy nie opgewasse is vir hierdie nuwe bondeltjie se emosies nie.  In die boek Koester jou kleuter verduidelik die baba- en kleuterkenner, Ann Richardson, hoe die stimulasie van ’n kleuter se sintuie sy emosies en gedragspatrone beïnvloed.  Sy noem die kind se sensoriese wêreld die sleutel tot ’n gelukkige kind.  Richardson beskryf in diepte hoe ’n kleuter se sensoriese stelsel in die brein werk en hoe hierdie insette ‘n kleuter se gedrag, dissipline, slaappatrone, eetgewoontes, toiletdissipline, algehele ontwikkeling en uiteindelik sy geluk beïnvloed.  Hierdie boek bemagtig ’n ouer om ’n kleuter se tekens van sensoriese oorstimulasie te lees en betyds daarop te reageer.  Richardson bied wenke aan oor hoe oorstimulasie in die eerste plek vermy of korrek bestuur kan word.  Koester jou kleuter bied die antwoord op talle ouers se vrae oor hul kleuters se vreemde gedrag.  Wat verder baie handig te pas kom is die hoofstukke wat handel oor die versorging en ontwikkeling van verskillende ouderdoms kategorieë (vanaf 1 tot 4 jaar). ’n Ouer vind hierin ’n handige hulpmiddel om te bepaal of sy kleuter die gemiddelde ontwikkelings mylpale (taal, motories, emosioneel, voeding, slaap, gedrag ens.) behaal.  Koester jou kleuter  kan opgesom word as ‘n handboek om kleuter breintjies beter te begryp, sodat jy as ouer nie op moedverloor se vlakte beland nie.  En wie weet, jy verstaan jou eie gedrag dalk ook beter na die lees van hierdie alles-omvattende-kleuterwêreld boek.
Magda Diedericks

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.